Stap (s.nw) “die plasing van een voet voor die ander by loop”
- Bernice Engelbrect
- May 24, 2018
- 4 min read

Is die lewe nie maar ’n staptog nie. Op en af, oor klip en sand - met ’n sak vol kos. Wel, ek kon hierdie metafoor meer realisties ervaar toe ek onlangs die Visrivier staproete in Namibië voltooi het. Vyf dae, twaalf individue en een canyon.
Vir die wat nog nooit hierdie roete gestap het of die canyon gesien het nie, dit is majestueus. Bruin kronkels en klowe so vêr as wat jou oog kan sien. Dan dring dit tot jou deur dat jy self onder in die canyon gaan moet kom om die stap te begin. Ek het nog nooit in my lewe ’n vrees vir hoogtes gehad nie, maar die eerste paar meter van die afklim het my bene soos riete gebewe - dit is beslis die laaste plek op aarde waar jy jou balans wil verloor. Met elke tree sink die besef van wat jy besluit het om te doen stadig maar seker by jou in. ’n Bondel vol emosies: angs, vrees, opgewondenheid en afwagting woel tussen deur ernstige konsentrasie om veilig by die eerste oornag-kamp plek te kom.
Onder in die canyon is dit met dankbaarheid vir jou eie en die groep se veiligheid wat jy die eerste keer die geleentheid kry om die swaar sak van jou rug af te haal, jou eerste aand se proviand uit te pak en die volgende week van jou lewe se oorlewings reis te begin...
Kontaklense verskaf ’n antiklimaks wanneer jy onder die sterre slaap. Dit is dowwe spikkels op ’n donker agtergrond, maar dit steel egter niks van die skreeuende stilte en skoonheid wat jou omvou soos ’n kokon nie. Om in die vroeë oggendure deur die kokon te breek soos ’n skoenlapper wat sy lewe begin en die dagbreek te sien ontvou, los jou woordeloos. En dan sit jy jou sak op jou rug en jy begin stap.
Dag twee. Die eerste stap dag met die meeste kilometers om af te lê. Daar ontstaan spontaan ’n linie stappers met die wat ’n gemaklike pas voor in neem en die wat agter stap om rustiger die skoonheid om ons in te neem. Die son volg die lyntjie mier-mensies soos hulle van klip na klip spring om afstand af te lê totdat daar lafenis onder ’n boom gevind word om te rus. Elkeen besig om ’n middagete van klein pikante ete’tjies te eet om energie op te bou vir die middag stap wat voorlê.
Elkeen in die groep moes ’n mediese vrywaringsvorm indien voordat jy die stap kon begin. Ek het met selfvertroue gedink dat ek hierdie uitdaging maklik sal kan aanpak, want die dokter het gesê my hartklop dui aan dat my oggend draf sessies wel bygedra het tot ’n relatiewe goeie vorm van fiksheid. Ek het op dag twee egter uitgevind dat hierdie fiksheid min bydra om my enkels stewig te hou oor los klippe en diep sand wat tesame met die swaar sak op my rug ’n gemoed uitdaging eerder as ’n fisiese een kon raak. Die pragtige metafoor vir die lewe duik weereens op as my man soos ’n ekstra ledemaat die heeltyd daar is om my hand te vat, balans te bied en te ondersteun in hierdie onvoorspelbare terrein.
Na ’n baie lang en uitdagende dag kan ons uiteindelik kamp opslaan vir ons tweede aand onder die sterre. Ten spyte van die moeë, seer lywe wat daardie aand warmte om die kamp vuur kom soek, bly die mens ’n besonderse skepping. Ons was ’n uiteenlopende groep individue wat saam gestap het, van ’n argitek en aktuaris tot ingenieurs en entrepreneurs. Almal met ons menslikheid in gemeen. Ons menslikheid in sy egste vorm: humor en pyn gemeng. Dit is egter in hierdie milieu van verlatenheid dat jy werklik die kans kry om dit te sien, te geniet en waardeer.
Dag drie. Die pleisters het nou hulle verskyning begin maak. Blase vorm ewe skielik soos klein molshope op tone. Ons koppe het kans gehad om aan te pas by ’n wêreld van niksheid. Niemand dink meer aan eposse of Instagram nie. Jy wens egter jou oë kan afneem en stoor wat oral om jou bestaan, want iewers in jou besef jy dat jy in jou lewe dalk weer op ’n plek gaan kom waar jy alleen voel in leemtes van niks – dan wil jy onthou dat daar skoonheid daar ook kan bestaan. En ewe skielik nog lewende wesens voor jou oë, wilde perde by die water. Water.
Die Visrivier het gevloei en ons moes dit ’n paar maal oorsteek; vir party mense was nat tekkies en sokkies (meer as wat hulle sou verkies) ’n werklikheid. Ek is paranoïes oor water. Warm water, skoon water, drink water. My man moes by elke stroompie ons bottels vol maak, net vir ingeval ons dors word en nie water het nie. Dan tref Johannes 4:14 my egter soos ’n bak koue water in die gesig. Dit sê: “maar wie van die water drink wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom ewige lewe gee”.
Dag vier. Die laaste dag van ons stap. Net ’n paar kilometer tussen ons en Ais-Ais, waar ons die laaste nag slaap. Daar heers eweskielik ’n gemene opwinding oor die vooruitsig om hierdie reis af te handel. Jy byt vas teen die pyn van blase wat bars en vergeef die son se vuurwarm strale wat op dag vier ’n hoogtepunt bereik. Jou oë trek op skrefies om die eerste teken van beskawing te gewaar totdat ’n tent die besef laat deursyfer en die laaste kilometer ons enigste oorblywende energie tap om te hardloop tot by die einde.
Die einde van ’n week se stap in ’n rivier canyon. Met niks anders as twaalf individue en ons rugsakke vol kos. ’n Week verewig vasgevang in ’n herinnering om te dien as aanmoediging om in hierdie lewe nooit op te hou of moed op te gee nie; om skoonheid in niks te sien; om die egtheid van ’n oomblik gedeel met mense te koester en om elke dag aan te hou stap.
Kommentarer