Ou Petrus
- Bernice Engelbrect
- Feb 22, 2019
- 4 min read
Daar is verskillende dinge wat my fassineer in die lewe. Hoe sekere onopvallende geure net saam werk soos heuning en balsamiese asyn, of hoe ’n skoen ’n hele uitrusting anders kan laat lyk. Niks kom egter by die fassinerendste spesie op aarde nie: mense. Dit mag dalk soms voorkom of ek die konsep van my introvertiese persoonlikheid holrug ry, maar slegs ware introverte sal die innerlike konflik verstaan wanneer jy ’n passie vir mense het, maar daardie passie jou energie stadig maar seker tap. Nou bly ek amper in die middel van niks en nêrens en dit is balsem vir die siel om geen stampvol strate en winkelsentrums om my te hê nie. Die enigste vangplek hier is dat al die mense jou ken, jy is nie slegs ’n wandelende wese in die massas nie.
Een van my grootste verrassings toe ek plaas toe getrek het was die Tswana mense. Waar ek bly is my wit gesiggie beslis vêr in die minderheid en word ek omring met kleurvolle glimlagte en persoonlikhede van mense waarmee ek skaars kan gesels. Ons word geskei deur taal. Die onvermoë om te vra wat mekaar gelukkig of kwaad maak, om saam te lag oor ’n koddige grappie en om lang gesprekke te voer en te filosofeer oor die lewe. Hierdie uitdaging het egter nie die nuuskierigheid oor die mense om my laat verdwyn nie, en ek het begin waarneem.
My man is hier gebore en het hier groot geword. Hy is by magte om homself in Tswana uit te druk en gesprekke te voer. Hy kan grap met die manne wat saam met hom in die beeskraal staan en ek moet maar probeer aflei of vra wat so snaaks was. Ek staan elke keer verstom as ons stad toe gaan en die ongeërgde dame agter die toonbank vra vir ons “of dit al sal wees” en my man antwoord in haar eerste taal. Dit is soos magic, eers ’n ongelowige kyk, dan ’n verbaasde glimlag en wat volg is ’n heerlike gesprek oor waar elkeen vandaan kom. Ek weet dat die vraag gaan kom of ek ook verstaan en dan maar die skame versekering dat ek graag wil leer.
Die plaas is soos enige besigheid met werknemers. Die enigste verskil is dat ons almal saam woon. ’n Gemeenskap van mense, oud en jonk wat in nederige afhanklikheid van die Vader leef, omdat geen mens die pula kan stuur nie. Omdat tradisionele werksure nie altyd van toepassing is nie en niemand in ’n Taxi klim om huis toe te gaan nie, sien ’n mens mekaar ook op ’n Saterdagmiddag as jy verby ’n sokkerwedstryd ry of ’n bakkie probeer stoot wat langs die pad gaan staan het.
Al kan almal my nie verstaan nie, is daar wel ’n paar karakters wat my hart gesteel het. Een van hulle is Ou Petrus. Ek kan nie regtig veel uitbrei oor sy biologiese inligting nie, ek ken eintlik net sy naam en ek dink hy is redelik gevorder in jare. Hy is die voorman op die grond waar my man ure woeker om beeste te bestuur en aartappels te produseer. Ons bly nie naby nie, maar Ou Petrus het op die grond gebly nog voor ons daar begin boer het en hy is nog steeds daar.
Sy houding en sy glimlag vertel ’n onvermydelike storie. Ou Petrus, ongeag sy ouderdom stap nooit nie. Hy is altyd op ’n drafstap. Hy het gehoor-probleme en as hy eers begin draf het dan kan jy hom nie stop voor jy nie agterna hardloop om hom in te haal nie. Ek weet nie of dit waar is nie, maar ek dink sy gunsteling Afrikaanse woorde is: “Ek Verstaan”, want dit maak nie saak wat ek al ooit probeer sê of vra het nie, dit is altyd die antwoord. Dit was ook sy antwoord toe ons een dag saam met hom bid, omdat hy glo dat mense wie hy verkla het van diefstal hom getoor het deur sy selfoon. Hy het intussen sy selfoon weggegooi, en al hoe ons weet of alles reg verloop by hom is om in die bakkie te klim, te ry en te gaan kyk.
Ek het nog nie een dag vir Ou Petrus sien kla nie. As ’n spilpunt se spuit kop verstop is begin hy al onder die water in draf nog voor my man sy skoene gou genoeg kan uitskop en sy hemp uittrek. Dit is ’n prentjie wanneer die druppels weer ’n reënboog vorm en die twee manne sopnat teruggedraf kom, die een sonder ’n hemp en die ander een met ’n glimlag, sonder tande. Ek weet nie of Ou Petrus weet wie sy Bybelse naamgenoot is nie. Petrus, die apostel wat Jesus met sy hele hart liefgehad het. Ek wonder partykeer hoe Ou Petrus se lewenspad geloop het, hoe hy gekom het waar hy vandag is en watter uitdagings hy al in sy lewe moes trotseer. Ek kyk na hom en besef dat iemand nie altyd hoef te praat om te wys wat in sy hart aangaan nie, want deur net na hom te kyk sien ek opregtheid, hulpvaardigheid, pligsgetrouheid en hardwerkendheid. Hy doen meer as wat van hom verwag word en dit lyk asof hy dit met liefde doen.
Ou Petrus sal dalk nooit hierdie stuk lees nie en dit maak ook nie saak nie - wat wel saak maak is dat hy net deur wie hy is ’n impak op my lewe gehad het. Al verskil ons as mense soos heuning en balsamiese asyn, het ons die vermoë om fantasties saam te werk. Met twee woorde en ’n glimlag kan jy iemand se lewe aanraak.

Beslis n diepe waarheid!
Beautiful