top of page

Plattelandse gasvryheid

  • Aug 15, 2018
  • 3 min read

Of jy nou ’n introvert of ’n ekstrovert, inkennig of sosiaal is die platteland prakseer ’n sosiale dinamika wat uniek is in sy soort. Net soos die seisoene wat kom en gaan bring hierdie sosiale dinamika tye van rus en stilte, maar ook tye van lewendige chaos. As nuweling tot hierdie verskynsel deel ek eerstehands die ervaring van ’n lewendige, chaotiese, onvergeetlike winter-kuier-seisoen.


Terwyl verskeie landgenote sosiale media oorval met somervakansie foto’s in Europa het die res agter gebly. Nuuskierig om te beleef met watter winter die suider punt van Afrika gaan verras. Die Kaap het reën gekry, koud en nat soos in die dae van ouds. Die binneland het sy droë winter humor behou met ryp en die kwik wat laag val. Hierdie unieke posisie skep ruimte om te kies, ons kan self kies hoe ons ons koue wil ervaar. Hierdie keuse dwing baie voertuie die N1 op, om te gaan kuier by die familie wat elke Desember getrou af see toe kom, al wat dit vat is die bereidwilligheid om te ry. Die lang pad aan te durf na ’n dorpie diep weggesteek van helder stadsligte en breë teerpaaie.



Aan die ander kant; borrel ’n energie op die plaas. Voorbereiding vir die winter-gaste verg deeglike beplanning van datums en kos. Niemand kom vir ’n “grênd” ete op die platteland en ry dan dieselfde aand huis toe nie, nee! Die voorbereiding moet reg wees, want die gaste kom om te bly. Die inkopies op die dorp moet klaar gedoen wees, die koskaste moet vol wees voor die mense kom, want daar is geen kans om vinnig by ’n winkel in te hardloop as iets vergete agter gebly het nie.


Die huis word van hoek tot kant skoongemaak, kamers word reg getrek en die beddens word oorgetrek met wolkomberse. Die oond werk oortyd om die blikke vol beskuit te maak en ’n koek moet op die staander staan en wag. Die stoep word herhaaldelik gevee, want die honde voel die opwinding in die lug en jaag mekaar oral oor die werf laat die hare spat. Met die lasagne in die oond daal ’n doodse stilte neer terwyl die sonsondergang die hemelruim verkleur en die gaste se voertuig van vêr af stadig oor die grondpad aangery kom. Dan begin die kuier.


Die roetine en werk op die plaas gaan aan; tussendeur word daar ontbyt gemaak. Eiers, roosterbrood, mieliepap en vrugte op die stoep. Middagete met soetpatats, rys vleis en aartappels en aandete van oorskiet op varsgebakte brood. ’n Enorme deel van die krag van plattelandse gasvryheid lê in die kos. Bakke vol van warm oudtydse kos soos geen Woollies Food se gaar hoender smaak nie. Tyd vlieg agter op ’n bakkie, in die veld en tussen beeskrale. Almal vergeet van weeklikse TV sepies, want daar word gekuier onder komberse op die rusbank. Gesels oor stories uit die verlede en drome in die toekoms. Vir ’n paar dae word ’n werklikheid gedeel wat vêr weg is van hoë geboue en verkeer.


Skielik ’n week verby. Na ’n vroegoggend groet, omdat die pad huis toe nog lank is, vertrek die gaste. Die introvert in my sak gedaan in ’n deurmekaar huis op ’n bank neer. Moeg gekuier, gesels, kos gemaak, skottelgoed gewas en beplan. Moeg maar vol. Gevul met liefde en waardering vir die klein goed in die lewe wat niemand meer raaksien of doen nie. Gevul met dankbaarheid vir vriendskappe wat die toets van afstand weerstaan. Met ’n nuwe verstaan van Matteus 10:40 wat sê: “Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.”


Gasvryheid poog nie om ander te probeer beïndruk nie. Gasvryheid verwag nie van jou om soos ’n slaaf ander te bedien ten koste van jouself nie. Gasvryheid vra bloot om jou deure oop te maak, ’n bietjie van jouself met iemand anders te deel; te gee wat jy kan want op die einde van die dag is dit al wat jy kan gee wat ooit sal saak maak.

 
 
 

Comments


© 2018 Gemmer & Kaneel. Geskep deur Wix.com

bottom of page