top of page

365 dae

  • Writer: Bernice Engelbrect
    Bernice Engelbrect
  • Apr 12, 2018
  • 4 min read

Ek het onlangs ’n artikel gelees waarin die sterk onafhanklike skrywer dit duidelik maak hoekom sy dankbaar is dat sy nie in haar twintigs getrou het nie. Sy het geskryf dat sy eers haar loopbaan wou vestig en nie verstaan hoekom ’n vrou jonk sal wil trou nie; dit gee haar geen tyd om haar eie identiteit te ontwikkel en ’n paar wilde nagte in die arms van ’n vreemdeling te geniet nie.


Ek is die jong vrou wat sy nie verstaan nie. Ek het in my twintigs getrou. Ek het geen loopbaan gevestig voordat ek getrou het nie, inteendeel ek het enige hoop op ’n onafhanklike lewe opgegee vir die man wat my in sy twintigs gevra het om sy vrou te wees.

Ek is nou een jaar getroud, steeds in my twintigs en op my gelukkigste. Ek stel graag my kant van die saak... jonk is ’n relatiewe term. Party mense kies om dit hulle lewe lank saam met hulle te dra. Ander verloor dit nog voor hulle lank op hierdie aarde gewoon het. Ek dink ouderdom word eintlik ’n dekmantel vir ’n verlange na beheer en ’n gevoel van vryheid so lank moontlik.


Dit is werklik so bevrydend om nie vasgevang in ’n raamwerk van idealistiese samelewing standaarde te beweeg nie. Ek beskou dit as ’n absolute genadegawe om my man op ’n jong ouderdom te kon ontmoet. Soveel jong vroue is steeds in ’n wag-seisoen. Soveel vroue verlang na ’n maat om alles mee te deel en wie sy volkome kan vertrou met haar hart en haar drome.


Om ’n Goddelike huwelik te betree verander die wêreld soos jy dit geken het. Let wel dat ek die byvoeglike naamwoord Goddelik gebruik, want ek dink dat ’n “gewone” huwelik wel iets is wat baie uitdagings en verstrengelde eise aan gewone mense bied. Hierdie byvoeglike naamwoord is egter soveel meer as net ’n paar letters op papier, dit is lewend en verander letterlik ALLES.


Die dag wat ek met my man getrou het was iets besonders en beslis ’n dag wat ek nooit sal vergeet nie, maar dit is egter wat daarna gekom het wat my perspektief op alles rondom my geskud het. Ek was al meer male in gesprekke waar die aanpassing van ’n huis deel, ’n bed deel as ’n paradigma skuif beskryf word. Dit kom seker neer op die keuse wat jy gemaak het. Die keuse van persoonlikheid, van sin van humor, van eet eetgewoontes, agtergrond, morele waardes ens en oor hoe dit by joune pas. Maar dit kan werklik as die avontuur van ’n leeftyd ervaar word as daar selfs net ’n tikkie van kompromie en selfopoffering in hierdie twee partye teenwoordig is.


Om met ’n man getroud te wees wat my eer en respekteer ontgin ’n diep verlange om hom te dien en ondersteun. Ek kon die woord “dien” uitlos, want dan sou ek die maklike uitweg vir myself gekies het om nie in die slaggat te trap wat van my ’n oudtydse weergawe sou maak van ’n stemlose slaaf nie. Hierdie dien verwys egter na die tipe agting waar ek veilig voel om my opinie en hart met hom te bespreek en hoe sy reaksie daarop my inspireer om te luister en te volg. Om hom op sy voorkop te soen, of ek lus is of in die bui voel om romanties te wees of nie, net omdat hy verdien om liefgehad te word as gevolg van die manier wat hy my lief het en kies.


As ’n mens bevoorreg is om in ’n huis groot te raak waar jy toegelaat word om die volle weergawe van jouself te wees is dit beslis egte grootword jare. As jy daarna met iemand trou wat jou toelaat om heeltemal jouself te wees is dit ’n bietjie gevaarlik, want ewe skielik raak daardie ware weergawe so gemaklik met ’n ander lewende wese naby dat jy een dag skrik as jy kliphard, vals in die motor half-skree soos jy ingedagte saam met ’n liedjie op die radio begin sing en dan besef dat jy nie bestuur nie en jou ander helfte sit doodstil in die kar en aanskou jou met ’n liefdevolle, geamuseerde kyk in sy oë. (Hierdie man moet my baie lief hê, want selfs nie eers my broer sou sulke gedrag lank vermaak nie en my broer is my beste vriend van geboorte af)


Om te eet, om te bad, om te slaap, om te ry, om enige iets te doen verander totaal en al van betekenis as jy dit nie meer alleen doen nie. Om vir 365 dae gedagtes en drome saam met my beste vriend te deel verander wie ek was. Omdat ek in my twintigs is beteken realisties gesproke dat ek dit dalk net so ’n paar jaar langer kan hê as iemand ouer. Ek kan dus net vir die skrywer van die artikel sê dat ek nie omgee hoe oud sy is nie, al wat ek vir haar wens is dat sy wel hierdie tipe liefde sal ervaar en dat elke jaar ’n geskenk is om te bewaar.


 
 
 

Comments


© 2018 Gemmer & Kaneel. Geskep deur Wix.com

bottom of page