Wonderlus
- Bernice Engelbrect
- May 8, 2018
- 2 min read
As ek ’n Afrikaanse definisie vir die term ‘wonderlus’ moet kies, sal ek sê dat dit: “die soeke na en ontdekking van suiwer saligheid” is. Dit het bekend geraak op sosiale media platvorms as prentjies en ervarings van mense wat lyk asof hulle die wêreld aan hulle voete het en dat ’n lewe daarsonder heeltemal gebrekkig en vaal is.
Ek het die afgelope naweek die Afrikaanse fliek Wonderlus deur die regisseur Johan Cronjé gaan fliek. Ek was nuuskierig oor die fliek nadat ek Leon van Nierop se resensie daaroor gelees het en wou uitvind hoe hierdie kleurryke term as ’n hedendaagse komedie in ons Suid-Afrikaanse konteks uitgebeeld gaan word. Ek stem saam met Leon as hy sê: “Dit kyk wat gebeur wanneer jonges besef die jeug is verby en heel moontlik vermors, en dat die verantwoordelikheid van grootmenswees wag. Die probleem is: het hulle genoeg geloof in hulleself en die liefde om volwassenheid te oorleef? En nie net terug te hunker na die onbesonnenheid en lekkerte van jonk wees sonder verantwoordelikheid nie?”
Ten spyte van die feit dat die relatiewe oop einde van die fliek dalk frustrerend mag wees vir enigeen wat hoop op antwoorde op die bogenoemde vrae, is dit vir my gerusstellend omdat ek self mag vashou aan dit wat dalk verlore gegaan het in die fliek: hoop.
’n Sentrale tema nie net in die fliek nie, maar in die lewe is beslis , liefde. Almal soek daarna op een of ander manier; een of ander vorm daarvan. Dit is hierdie soeke wat mense verlei, mislei en aflei van die ware bron en oorsprong daarvan. Die Here sê in Jeremia 1:5 “Voordat ek jou in die moederskoot gevorm het, het ek jou geken”. Dit is bloot as jy Hom ken dat jy ware liefde sal ken.
Ek moet erken ek wou dadelik na die fliek opstaan en voor in die teater gaan staan om vir elkeen wat uitstap te vertel dat daar wel ’n alternatief is tot die gebeure op die skerm. Dit is ’n briljante weergawe van ’n realiteit, vertel deur oortuigende toneelspel en galgehumor, maar dit is nie al nie. Daar bestaan ’n alternatiewe opsie. ’n Opsie waar vreugde wel daarin lê om die volgende dag die gebeure van die vorige aand te onthou. Omdat jy dit wil onthou, want dit was gevul met ware vreugde en lag. Aangevuur deur nugter denke en die onuitblusbare begeerte om te lééf en die voorreg daarvan te besef.
’n Troue is die grootste viering van ’n instelling wat ongelukkig nie deur die mens geskep is nie, en daarom nie afgewater kan word deur ons eie idee van geluk nie. Die pragtige ironie in die naam van die fliek beklemtoon hoe tekort ons skiet om ons soeke na suiwer saligheid in ons beperkte menslike krag te probeer bewerkstellig.

Of jy dus die fliek kyk of nie en daarvan hou of nie is jou eie keuse. Onthou egter net dat om terug te hunker na onbesonnenheid en die lekkerte van jonkwees soos ’n Pinterest prentjie van ’n prag oomblik in tyd mag lyk; dit is egter nie tasbaar nie en het dus nie die vermoë om jou te raak nie. Daar is altyd hoop, veral as jy joune plaas in ’n Vader van Wonder.
Comments