My nooi is in ’n nartjie, my ouma in kaneel
- Bernice Engelbrect
- Jun 20, 2018
- 3 min read
(Ek dreig nou al ’n geruime tyd om ’n resep te deel)

Ek het nie lank gelede ontdek hoe baie ek dit geniet om te bak nie. Ek kom uit ’n familie van “baksters”, aan albei kante. Maar dit blyk ’n talent te wees wat eers tot sy volle reg kom wanneer die vrou in haar eie kombuis, voor haar eie stoof staan.
Ek kom tot hierdie gevolg, want ek het dit self ervaar. My ma het altyd vir ons gebak, van kleins af sou ons naweke ’n lekkerte ruik nog lank voor dit koud genoeg was om te versier of te eet. Maar vir een of ander rede was die kombuis soos haar eie klein koninkryk; ek het een of twee keer nader gekom en gepoog om dit te betree en self my hand in ’n mengbak te steek, maar ek het vinnig besef dat sy die gawe het en dan het ek maar weer kant toe geskuif en die kunstenaar gelos om haar skeppings op te tower. Ek het dus nooit geweet ek kan of sal wil bak, voordat ek getroud was en my eie kombuis gehad het nie.
My ouma het vir my ’n handgeskrewe resepteboek vir my een-en-twintigste verjaarsdag gegee. Ek dink dit was my een en enigste trousseau (so ’n lang outydse woord vir ’n vrou se versamelings voordat sy trou). Ek het onlangs een van my ouma se resepte op die proef gestel, haar einste “kaneel koek”, het so ’n reaksie uitgelok dat ek nie anders kan as om daaroor te skryf nie.
Na aanleiding van die naam van my blog, is dit nie ’n raaisel om te weet dat ek van kaneel hou nie. Ek is oorbewus van my soettand en voel party dae so dankbaar vir ’n soet lekkerte wat 'aanvaarbaar' is dat ek kaneel oor byna alles gooi, van hawermout in die oggend tot skorsies in die middag en melkkos in die aand. Wat lekkerder dan as ’n kaneel koek!?
Toe ek die aand die einste kaneel koek na ons Bybelstudie toe vat het ek eers half probeer verskoning maak vir ’n koek wat ontradisioneel is omdat dit nie ge-“ice” is nie, maar die reaksie van my tradisionele gehoor het my egter verbaas! Die kaneel koek is met soveel waardering ontvang dat ek julle nie langer gaan uithonger nie. Hier is die resep:
Vir die vulsul en bolaag:
½ koppie gekapte okkerneute
½ koppie bruinsuiker
2 eetlepels koekmeel
¼ koppie klapper
1 ½ teelepels kaneel
30 gram gesmelte botter
Meng dit alles saam.
Vir die koek:
2 koppies koekmeel
1 koppie suiker (maak dit ’n half as jy ook gril vir die idee, maar weet dit is belangrik vir die smaak)
2 teelepels bakpoeier
’n knippie sout
3 eiers
½ koppie melk
125 gram botter
Klits die botter en die suiker tot romerig en voeg die eiers een vir een by. Voeg die melk by en laastens die meel, sout en bakpoeier. Smeer (of Cook&Spray) ’n koekpan en gooi een helfte van die beslag in die pan. Sprinkel die helfte van jou vulsel oor die beslag. Gooi nou die oorblywende helfte van jou koek beslag bo-op en sprinkel die res van die neutmengsel as die bolaag. Bak hierdie heerlike skepping vir 45 minute (toets met ’n toetspen of jy dit ’n bietjie langer wil los) teen 190°C.
Bedien en geniet met styf geklopte room of ’n teelepel roomkaas.
Eet ’n sny in die winterson en dink ’n slag aan alles wat jy by jou ouma geleer het.
Comments